Die ontstaan van ons dorpie

Click for:English

Carnarvon Tuisblad

 

Ons pragtige erfenis

 

  Ten einde 'n begrip te kry vir Carnarvon, sy mense en die verhouding tussen die bevolkingsgroepe soos ons dit vandag hier aantref, is dit belangrik om die geskiedenis van ons dorp te ken.   Die onderstaande woordelikse aanhaling uit 'n geskrif van F.J.Steynberg verskaf 'n goeie samevatting van die geskiedenis van Carnarvon.   Hierdie geskrif is egter tot 'n groot mate eensydig uit die oogpunt van die blanke geskryf en om 'n meer gebalanseerde begrip te kry is dit nodig om ook die V G Kerk se gedenkblad, soos saamgestel deur Dr Sakkie Potgieter vir die tydperk 1847 -1997, daarmee saam te lees.

Enkele woorde uit die onderstaande aanhaling is vervang met woorde wat minder aanstoot behoort te gee.

______________________________________________

CARNARVON,SY ONTSTAAN EN GROEI: 1839 – 1952 OPGESTEL VIR DIE VANRIEBEECKFEES,APRIL 1952 DEUR F.J. STEYNBERG  B.A.,B.EDUC.

 

  Carnarvon het oorspronklik begin as ‘n Bantureservaat wat in 1839 deur die destydse Kaapse Goewerneur, Sir George Napier, aan ‘n aantal gewese volgelinge van die Xhosa-opperhoof, Gaika, gegee is. Die ontwikkelingsgeskiendenis van die dorp, veral gedurende die eerste paar dekades van sy bestaan, en tot ‘n mate ook nog lank daarna, hang baie nou saam met die bedrywighede van die Rynse Sendinggenootskap wat reeds gedurende die veertigerjare van die 19de eeu ‘n sendingstasie hier gestig het.  Dit sal dus nie onvanpas wees nie om eers ‘n kort oorsig te gee van die herkoms van die Xhosagroep met wie se koms hierheen die geskiedenis van die dorp en ook van die plaaslike sendinggemeente begin het. Daarna sal ons die ontwikkeling van die sendinggemeente skets, voordat ons die stigting en ontwikkeling van die blanke gemeente behandel.

   Presies hoe, en wanneer die Xhosas ‘n aparte stamgroep geword het, is nie bekend nie, maar in die regeringstyd van Simon van der Stel (± 1686) aan die Kaap, was  Togu die erkende Xhosa-opperhoof aan weerskante van die Keirivier.  Volgens Xhosatradisie was hy die sewende operhoof, die eerste, en tewens ook die stigter van die stam, sou “Xhosa” geheet het.

   Gedurende die laaste helfte van die 18de eeu het daar ‘n verdeling in die Xhosastam gekom.  Volgens gebruik het die leierskap van die hele stam oorgegaan na Galeka, oudste seun van Palo (die 10de opperhoof) se “Groot Vrou”, maar ook die erfreg van Rarabè, oudste seun van Palo se “Regterhandse Vrou”, is erken.  Rarabè het in 1781 in oorlog met ‘n ander stamgroep (die Tembu’s) gesneuwel.  Sy seun en opvolger, Oemlawe, was reeds dood, sodat Oemlawe se seuntjie Gaika, (destyds nog baie jonk) die wettige opperhoof van die Gaikas was.  Tydens Gaika se minderjarigheid sou Ndlambi, (of Slambi) ‘n broer van Oemlawe, vir hom as regent optree.  Toe Gaika later meerjarig word, het Ndlambi reeds ‘n sterk aanhang gehad wat hom as opperhoof erken het.  Die gevolg was ‘n lang en verbete stryd tussen die volgelinge van Gaika en Ndlambi.(i)

Die Kaapse regerings, eers die Hollands-Oos-Indiese Kompanje, en ook die Britse Regering ná 1806, het vir Gaika as die wettige opperhoof erken. Na afloop van die 4de Bantu-oorlog (1812) was dit dan ook met hom wat die Kaapse Goewerneur, Sir John Cradock, vrede gesluit het.  Vir die eerste keer na 1789 was die Bantu’s nou weer almal oor die Visrivier teruggedruk.

 Die gebied het blykbaar vir hulle te nou geword.  Daar het dus ‘n verdere splitsing tussen Gaika se volgelinge gekom.  Sowat 1000 (ii) van sy mense onder leiding van Jan Kaffer (seun van Gaika se “Linkerhandse Vrou”) het Weswaarts oor die Visrivier getrek.  Hulle was nie vyandig gesind teenoor die Kaapse regering nie,  en dit verklaar waarom hulle so stadig deur  die Kaapkolonie kon trek.  Hulle het al langs die suidkus voortbeweeg totdat hulle uiteindelik teen die einde van 1838 by Paarlberg (36 myl van Kaapstad) aangekom het.  Op hulle trek het hul vermoedelik met Ds. Van der Kemp en Eerwaarde Read in aanraking gekom want J.C. Wallmann, inspekteur van die Rynse Sendinggenootskap, verklaar in sy “Leiden und Freuden der Rheinischer Missionäre”, dat daar nog spore van die werk van die Londonse sendelinge onder hulle was.

 Ondertussen het die beskawing al dieper die binneland ingedring en algaande die lastige en roofsugtige wilde Boesmans vooruit gedryf – eers uit die Roggeveldsberge en later ook uit die Nuweveldsberge.  Teen 1839 het groot getalle van hulle in die Kareeberge skuiling gevind.  Die Kaapse regering onder Sir George Napier het in hierdie jaar ‘n verdrag met Jan Kaffer en sy volgelinge gesluit (iii) waarvolgens hulle onderneem het om die Boesmans uit die Kareeberge te verdryf.  As vergoeding vir hierdie “Blutarbeit”,(iv) soos Wallmann dit noem, sou hulle ‘n sekere stuk grond, Harmsfontein, (vandag Carnarvon) Schietfontein en Rhenosterpoort, altesaam sowat 98,000 morge, ontvang.  Nog voor die einde van 1839 het Jan Kaffer met sowat 110 Xhosa gesinne (die “Kareeberg-Bantu’s), soos Wallmann hulle noem, hier aangekom om uitvoering te gee aan die opdrag deur Sir George Napier aan hulle opgelê.  So het die huidige dorp Carnarvon begin.

 (i)                   Dr. S.F.N. Gie : “Geskiedenis vir Duid-Afrika” Deel I

(ii)    J.C. Wallmann “Leiden Und Freuden der Rheinischer Missionäre”  Bls. 385.

(iii)                   J.C. Wallmann : Bls. 389.

(iv)           Hier moet ons tot ons spyt invoeg dat, wat ander pioniersvolke se lot was, ons voorgeslagte in hierdie omgewing òòk nie gespaar is nie.  Die Boesman met sy uiters swakke aanpassing by die bestendig verspreidende beskawing, het maar gedurig strooptogte, gepaard met sporadiese moorde, onderneem.  Die gevolg hiervan was strafekspedisies waarin die bantustam wat hierheen verhuis het, volgens ooreenkoms, ook sy rol moes speel.  Met verloop van tyd is die Boesmans heeltemal uit die Kareeberge gedryf.  Hulle het toe ‘n tyd lank skuiling gevind by en rondom Doringberg, Suidoos van Vosburg van vandag, maar moes uiteindelik verder noordwaarts trek oor die Grootrivier tot in die randgebiede van die Kalahari.

 Nie lank hierna nie, het ‘n aantal Basters(v) wat van die kant van die Amandelboom (Williston van Vandag) af gekom het, by Jan Kaffer en sy mense aangesluit.  Hy het hulle toegelaat om by Schietfontein te woon, en dit was aan hulle te danke dat die eerste sendelinge van die Rynse Genootskap, Eerw. Zahn van Tulbach en Eerw. Leipoldt van die Wupperthal in 1842, die Schiet- en Harmsfontein – gebied besoek het met die doel om uit te vind of daar ‘n moontlikheid bestaan om ‘n sendingstasie te stig.  Toe hulle die môre vroeg hier aankom, was Jan Kaffer en ‘n paar van sy indoenas ( volgens Wallmann) net klaar om na ‘n plek met die naam Unkees(vi) te vertrek om brandewyn te gaan koop.  Dieselfde aand was hulle weer terug, maar die meeste van hulle, ook Jan Kaffer, was smoordronk. (Hy het later heeltemal hervorm, op 18 November 1849, toe hy byna 60 jaar oud was, is hy gedood).

 STIGTING EN ONTWIKKELING VAN DIE SENDINGGEMEENTE

Nadat die twee besoekende sendelinge sake deur gekyk het, is hulle weer terug. Jan Kaffer was nie kwaadgesind nie, en hulle het besluit om ‘n sendeling hierheen te stuursodra een beskikbaar sou wees.  Byna vyf jaar het egter verloop voordat Eerw. C.M. Alheit,(vii) ‘n Rynse Sendeling, op 18 November 1847 van Amandelboom af hier aangekom het. Hy het sy tent tussen die huidige Sendingpastorie en pastorietuin opgeslaan.  Dit was die aanvang van die werk van die Rynse Sendinggenootskap hier. Byna honderd jaar later, 1943, het die N.G. Kerk die werk oorgeneem.

 Toe Jan Kaffer teen die einde van 1839 met sy mense hier aangekom het, het hulle baie beeste besit. Uit vrees vir gebrek aan weiveld vir almal, het sowat 40 gesinne weggetrek na die berge(viii) duskant Victoria Wes (van vandag). Daar het hulle ook in botsing gekom met wilde Boesmans, wat later met behulp van boere verder noordwaarts verdryf is.

(v)     Gedurende die dertigerjare van die 18de eeu het daar sowat 600 tot 700 Basters aan die Suidwestekant van die Kareeberge gewoon.  Hulle het baie vee besit en het van plek tot plek rondgetrek vir water en weiding.

Op die een of ander wyse het hulle blykbaar ‘n begrip van die Christelike godsdiens gekry, want hulle het herhaalde versoeke aan die Rynse sendingstasie by Wupperthal gerig om vir hulle ‘n “leraar”te stuur.  In 1840 is aan die versoek voldoen, en twee sendelinge nl. Eerw. Lutz, bygestaan deur Eerw. Beinecke, is gestuur om hulle te bearbei, ‘n Sendingstasie is gestig by ‘n sterk fontein (naby die Sakrivier) waar daar ‘n wilde-amandelboom gegroei het- vandaar die naam van die “stasie”.  Met die koms van die blankes het baie van hierdie Basters ooswaarts getrek en hulle by Schietfontein kom vestig. (N.B. Hierdie gegewens ontleen ons aan “Van Alle Kante” in “Die Burger.”)

 (vi)      Nie bekend waar dit was nie.

 (vii)     Oorgrootvader van ons huidige Ds. W.A. Alheit. 1951.

       (viii)  Die Pramberge

Kort na Eerw. Alheit se aankoms hier, het nog ‘n aantal van Jan Kaffer se volgelinge wat vir die sendingwerk kwaadgesind geword het, weggetrek. ‘n Deel het by die 40 gesinne naby Victoria Wes aangesluit terwyl die ander, onder leiding van Donker Malgas (ix) noordwaarts getrek het tot by die Oranjerivier.

 Intussen het Eerw. Alheit nie stilgesit nie: Hy het die eerste kerkie van pale,riete,matjiesgoed en klei gebou, maar hierdie kerkie was gou te klein.  ‘n Tweede is dus langs die Sendingpastorie van vandag opgetrek, maar teen die einde van 1856 was die aantal gemeentelede en ander kerkgangers al so groot dat ‘n derde gebou moes word.  Dit het gestaan waar die huidige sendingkerk is. Hierdie kerk is ook deur blankes bygewoon.

 KOMS VAN DIE EERSTE BLANKES

Vanaf die begin van 1850 het veeboere en ook handelaars en smouse begin om die Schiet- en Harmsfontein – Bantu’s lasting te val. (x) Die gevolg was dat Jan Kaffer in 1851 ‘n klein ekspedisie na die Groot-rivier gestuur het om uit te vind hoedanig die moontlikhede vir ‘n bestaan daar was.  Nog voor die terugkoms van die ekspedisie, het ‘n ernstige droogte die Kareeberg-streek swaar geteister. Toestande het so haglik geword dat Eerwaarde Alheit, vergesel van twee gedoopte Bantu’s, na Kaapstad gegaan het om met Sir Harry Smith (destydse Goewerneur) te onderhandel met die oog op die verkryging van die grond langs die Grootrivier vir ‘n beter bestaan vir die “Kareeberg Bantu’s)”. (xi) Eerwaarde Zahn van Tulbagh het ook by die afvaardiging aangesluit.  Die onderhandelings het egter misluk omdat die 8ste Bantu-oorlog toe juis aan die gang was en die Regering al sy aandag aan die Oosgrens moes wy.  Eerwaarde Alheit het dus teleurgesteld terug gekom en moes sy werk onder uiters moeilike omstandighede hervat.  Die droogte het nog steeds voortgeduur. Die Bantu’s het byna al hulle vee verloor en groot armoede het geheers.

 Met kenmerkende volharding het Eerwaarde Alheit daarin geslaag om sy mense bymekaar te hou en hulle moedeloosheid nie tot wanhoop te laat oorgaan nie.  Beter tye het gekom nadat die droogte uiteindelik op 22 Februarie 1852, na meer as twee jaar, gebreek is.

Tenspyte van al die teenspoede was Eerw. Alheit se werk nie sonder sukses nie. Von Rohden(xii) sê dat hier teen die einde van 1851 reeds 173 gedooptes, 19 katkisante, een ouderling en twee diakens was.  Hy verklaar verder dat die gemeente van toe af vinniger  begin groei het.

In 1857 is ‘n verdere poging deur blankes aangewend om in besit van die reservaatgronde te kom.

(ix)                “ History of South Africa”. Vol. II bls. 129.

(x)                  Blankes het probeer om grond en erwe van die Bantoes in die hande te kry.

(xi)                Wallmann.

(xii)               L.von Rohden (Rynse Sendinginspekteur): “Geschichte der Rheininschen Missions-Gesellschaft.” Bls.140.

Von Rohden sê die volgende:

 “Planne is beraam deur ‘n aantal boere en die Landmeter-Generaal om byna al die grond wat aan die “Kareeberg-Bantu’s” behoort het, op te meet en 80 boerplase daarvan te maak. (Genoeg boere was bereid om te koop.) Net 10,000 morge sou vir Jan Kaffer en sy mense gereserveer word.”(xiii)

 Die gevolg van hierdie nuwe verwikkeling was dat daar ‘n tweede deputasie, bestaande uit Eerw. Alheit, drie naturelle en twee Basters, teen die einde van 1857 na Kaapstad gegaan het om weer met die Regering te onderhandel met die doel om opnuut die besitreg op die Kareebergreservaat gewaarborg te kry.  Hulle kon geen defnitiewe antwoord kry nie en kom in Februarie 1858 onverrigtersake terug. Alles was dus nog onseker.

 EERSTE ONDERWYSER

In 1859 het hier ene Mnr. Dönges, (xiv) as “Bystand” of hulp vir Eerw. Alheit, aangekom. Hy was die eerste onderwyser hier. Die skool wat hy begin het, is ook deur blanke kinders bygewoon.  Die vernaamste vakke was Hooghollands, Engels,Godsdiensonderwys, - en selfs ‘n bietjie Latyn.(xv)

 Omtrent dieselfde tyd is die onderhandelings tussen sowat 60 (sestig) boere en die Sendinggemeente hernuwe.  Die boere het 17.000 vir die reservaatgronde aangebied op voorwaarde dat al die Kareeberg-Bantu’s wegtrek na die Groot- en Hartbeesrivier. (xvi) (‘n Geselskap wat gestuur is om te gaan kyk hoedanig die vooruitsigte daar was, het geraporteer dat dit te droog was.)

 Baie meer blankes het intussen hier aangekom, sodat die Regering uiteindelik verplig was om stappe te doen. Op 16 November 1860 het die Goewerneur (Sir George Grey) ‘n proklamasie uitgevaardig waardeur die “reservaatgronde” (98.000 morge) as volg verdeel is: -(xvii)

 (a)      12,000 is vir die dorp uitgehou. Hieruit moes 200 erwe vir nie-blankes uitgemeet word.   Die res moes bly as dorpsmeent. (Binnemeent.)

Die Rynse Sendingkerk is gebou in 1858 en steeds in gebruik.

         (xiv)    Grootvader van ons huidige Minister van Binnelandse sake, Dr. T.E.  Dönges.

 (xv)    Terloops mag ons hier byvoeg dat Oom Albert Jooste van Carnarvon, ‘n paar jaar gelede op sy 91ste jaar oorlede, vertel dat die klompie  blanke kinders destyds saam met ‘n duisternis bantoetjies in dieselfde gebou skoolgegaan het en o.m. ook Latyn moes leer;  die oubaas  merk op “en ag, die ongelukkige Latyn tog!  Hoe moes die bantoetjies in hul swart koppe kry wat ek nie eers in my wit kop kon kry nie!”

 (xvi)              Die rivier wat by Kenhardt van vandag verby loop.

(xvii)            Von Rohden:  Bls.144

 (b)      86,000 morge is gereserveer as buitemeent waarop alleen erfhouers (dus alleen nie-blankes) weiregte gehad het.

(c)       Sekere erwe is vir die Rynse Sendingkerk en –skool uitgehou.

 (N.B. Hierdie deel van die proklamasie is onderteken deur Landmeter-Generaal, Charles Bell.)

 Aan hierdie nuwe skikking was daar ‘n voorwaarde verbonde nl. dat elke erfhouer binne drie jaar ‘n “redelike” huis op sy (haar) erf moes bou, anders sou hy sy regte daarop verbeur.

 Hierdie reëlings was die begin van die agteruitgang van die nie-blankes as grondbesitters, want die Regering het nie die erwe onvervreembaar gemaak nie, d.w.s. hul kon aan blankes verkoop word.

 Stadigaan het die oorspronklike erfhouers hulle eiendomme begin verloor, want baie was nie in staat om huise te bou nie.  Andere weer het hulle erwe verbind, in baie gevalle is selfs skulde gemaak om drank te koop.  Daar het ook ‘n serwituut op hierdie erwe gerus nl. dat die erfhouers nie hulle weiregte in die binne- of buitemeent mag verhuur nie.  Hulle het dus maar die erwe, saam met hulle buiteregte, aan blankes begin verkoop.

 In 1864 is ‘n nuwe sendingskool gebou. (Mnr. Dönges was nog steeds hier as onderwyser werksaam.) Hierdie skool is al deur sowat 40 blanke kinders bygewoon,(xviii) (‘n bewys dus dat ons nou nie meer met ‘n suiwer sendinggemeenskap te doen het nie) – en die getalle van die blankes het nog jaarliks toegeneem.

 Hierdie feit word verder deur die volgende verskynsel bewys:-

 “HEIDENFEESTE”

 Vanaf die stigting van die plaaslike Sendinggemeente was dit die gebruik om elke sewe jaar ‘n groot sendingfees te hou; ‘n “Heidinfees” soos dit genoem is.  Die eerste fees in 1854 gehou, is nie deur blankes bygewoon nie.  Ook die tweede, 1861, was nog ‘n suiwer “Bantufees” soos van Rohden dit uitdruk, maar dit was die laaste van sy soort.  Die volgende een wat deur Eerw. P. Sterrenberg gereël en in 1868 gehou is, is al byna oorweënd deur blankes bygewoon.  Dit was dan ook die einde van hierdie “Heidenfeeste”,(xix) (N.B. Na hierdie datum (1868) is die benaming “Kaffers” geleidelik deur die woord “Naturelle” vervang.)

 (xviii)           Mnr. Dönges het nou al twee assistente gehad.

(xix)              Von Rohden: Bls. 145

 Byna 18 jaar lank het Eerwd. C.W. Alheit gestaan in die Sendinggemeente wat hy hier gestig het.  Gedurende hierdie tydperk is 1043 kinders en volwassenes deur hom gedoop en 420 persone aangeneem. Die voortbestaan en groei van die gemeente, selfs nog na sy vertrek getuig van die deeglikheid van sy arbeid alhier.

 In 1865 is Eerw. Alheit opgevolg deur Eerw. P. Sterrenberg.

 Die grondslag van die Sendinggemeente was nou reeds stewig gelê.  Hier was al ‘n goed geboude kerk, ‘n sendingskool en –pastorie.  Ook was hier ‘n mooi vrugte- en groentetuin deur Eerw. Alheit aangelê.  Tog moes Eerw. Sterrenberg onder moeilike omstandighede werk,  want die sendinggemeenskap het van nou af, op stoflike gebied baie vinnig agteruit gegaan.  In 1875 was die ontvreemdingsproses van die reservaatgronde al vèr gevorder.

 Afgesien van die geestelike bearbeiding van die Sendinggemeente, moet ook melding gemaak word van die skoolaangeleenthede wat veral gedurende die laaste jare van Eer. Sterrenberg se dienstyd vinnig verbeter het. Kinders het nou al tot Std. IV begin leer.  Beter subsidies is deur die Departement van Onderwys beskikbaar gestel, en die Skoolhoof wat na Mnr. Dönges gekom het, nl. Mnr. Schmolke, het reeds opgeleide nie-blanke assistente gehad.  Die skool is nie meer deur blanke kinders bygewoon nie en is ook al deur Departementele Inspekteurs besoek.  Teen 1890 was die getal nie-blanke leerlinge sowat 120 – 130.

 Gedurende sy dienstyd van byna 27 jaar het Eerw. Sterrenberg 1265 kinders en volwassenes gedoop.  Hy is op 14 Julie 1892, na ‘n baie kort siekbed, oorlede.

 ‘n Hele paar sendelinge, o.a. F. Weber, S. Kükn, H. Kreft en C.H. Latsky, het tydelik hier gewerk tot 25 Des. 1893, toe Eerw. H. Stremme (direk uit Duitsland) hier aangekom het. Sy dienstyd hier was maar kort, sowat 8 jaar, dog nie sonder vrug nie. In 1896 het hy die Blaasorkes wat vandag nog bestaan, in die lewe geroep.  In 1897 is die Sendingkerk vergroot, ‘n gallery ingebou en die huidige toring opgerig.

 Ook wat die sendingskool betref, was daar vooruitgang. Jaarlikse Departementele inspeksies is vanaf 1894 gehou en rapporte gelewer. Die juiste getalle van die skool as geheel word nie genoem nie, maar Inspekteursrapport(xx) van 13 Februarie 1894 maak melding van 77 kinders in die Kindertuinafdeling.

 (xx)               Hierdie rapport tesame met latere rapporte is in besit van die plaaslike Sendingkerk.

 Na Eerw. Stremme se vertrek (xx1) in die begin van 1902 was die Sendinggemeente vir ‘n tydjie sonder leraar.  Eerw. E. Biesenbach destyds werksaam op Steinkopf,Namakwaland, is toe deur die Rynse Genootskap hierheen gestuur.  Met sy aankoms hier, het hy gevind dat die militêre owerhede die Sendingkerk en skool in besit geneem het en as hospitaal ingerig het.  Die Sendingpastorie was deur dokters en verpleegsters bewoon.  Hy kon die geboue nie terug kry nie, en is toe na Kaapstad om met die regering te onderhandel.

 Na weke lange vergeefse pogings is hy uiteindelik na die Prokureur-Generaal. (Mnr. Graham) wat hom meegedeel het dat hy van die magistraat van Carnarvon ‘n brief ontvang het waarin laasgenoemde skryf dat die Sendinggemeente ‘n Engelse sendeling wou hê, en dat hy (Eerw. Biesenbach) nie moes terugkom nie.  Hy het toe ‘n laaste poging aangewend en daarop gewys dat die geboue waarop beslag gelê is die eiendom van die Rynse Sendinggenootskap is.  Mnr. Graham het beloof om te sorg dat alles herstel sou word.

 Gedurende die woelinge het die Sendinggemeente verdeeld geraak.  Net ‘n deel het aan die Rynse Genootskap getrou gebly, maar Eerw. Biesenbach het daarin geslaag om die twee groepe weer bymekaar te kry.  Hy het dadelik begin om die kerk in orde te bring – ‘n nuwe vloer is gelê en nuwe banke ingesit.

 Gelukkig vir die gemeente het Mnr Graham blykbaar nie versuim om sy invloed by die Regering te gebruik nie, want toe Eerw. Biesenbach van Kaapstad terugkom, was hier ‘n ander magistraat.  In verband hiermee skryf Eerw. Biesenbach as volg: -

“Die volgende oggend vroeg word aan ons deur geklop en toe ons oopmaak, was dit Carnarvon se nuwe Magistraat, Mnr.Bam, ‘n goeie vriend en Godvresende man, ‘n seun van een van ons Sendelinge uit Suidwes-Afrika. Dit het ons aan die regering te danke gehad, maar nog veel meer was dit ‘n bestiering van God. Toe het ons nuwe moed geskep.” (xxii)

 Behalwe die herstelwerk aan die kerk is ook twee nuwe klaskamers vir die sendingskool aangebou.  Ook op Van Wyksvlei is ‘n skooltjie en onderwyserswoning gebou.

 Intussen het ‘n aantal gemeentelede na Koegas gegaan om in die Asbesmyne te werk.  Eerw. Biesenbach moes tweekeer per jaar daarheen om hulle geestelik te bearbei. In 1912 is die huidige sendingpastorie gebou.

 (xxi)   Eerw. Stremme is in die begin van 1902, voor die einde van die Tweede Vryheidsoorlog, deur die militere owerhede hiervandaan weggestuur omdat hy te openlik met die boere gesimpatiseer het.  (Hierdie informasie is vervat in 'n brief van Eerw. Biesenbach.   Die brief is in besit van die Sendingkerk.)

(xxii)   Aangehaal uit ‘n brief van Eerw. Biesenbach wat op 1 Julie 1947 uit Stellenbosch aan ons geskryf   het.  Hy was toe byna 82 jaar oud.  Die brief word in die argief van die plaaslike Sendingkerk  bewaar.

 In 1922 is Eerw. Biesenbach na Saron verplaas en het ‘n waardige opvolger gehad in Eerw. E. Hartwig, ‘n baie begaafde man.  Hy was besonder prakties aangelê en het die kuns verstaan om met min geldelike steun uit sy Vaderland, die beste van ‘n swak saak te maak, veral na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939.

 Die skool, egter, het steeds vooruit gegaan;  hier was reeds byna 40 nie-blanke leerlinge toe hy die tuig in 1943 neergelê het.  Ook op geestelike gebied het hy die sendinggemeente met groot sukses bearbei, maar toe het hy onder moeilike omstandighede gewerk en die gemeente deur die kommervolste jare van sy bestaan gevoer totdat dit deur die N.G. Kerk oorgeneem is.

 Dit sal miskien nie onvanpas wees om hier net ‘n paar syfers te noem nie.  Gedurende die 95-jarige bestaan van die plaaslike Rynse gemeente, is altesaam 1779 pare in die huwelik bevestig, 1652 persone aangeneem en 6974 volwassenes en kinders gedoop.

 OORNAME VAN DIE PLAASLIKE RYNSE SENDINGGEMEENTE DEUR DIE NG KERK

 Ons  het reeds melding gemaak daarvan dat die Rynse Sendinggenootskap sy eerste ernstige terugslag gekry het met die uitbreek van die Europese oorlog in 1914.  Moeilike tye het gevolg en die verteenwoordigers van die Genootskap in Suid-Afrika het minder en minder steun uit die vaderland ontvang.  Gevolglik is besluit om van sy stasies aan die N.G. Kerk oor te maak.  Eers is van die stasies in Namakwaland afstand gedoen, en daarna het die een na die ander gemeente in die Westelike-Provinsie gevolg.

 Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, was 8 stasies reeds onder die vleuels van die N.G. Kerk.  In 1943 is die Carnarvonse gemeente oorgeneem terwyl die 10de (Sarepte, naby Kuilsrivier) op 3 Augustus 1947 oorgeneem is.

 (N.B. Hierdie gegewens kry ons uit die aantekeninge van wyle Dr. H.P. Cruse van Stellenbosch.)

 Dit was nie maklik vir die Rynse Genootskap om van sy stigtings afstand te doen nie, maar daar was geen ander uitweg nie.  Nogtans kan almal wat aan die Genootskap verbonde was, en nog is, dankbaar wees dat daar soveel was wat aan ‘n waardige liggaam soos die N.G. Kerk  kon oorgemaak word.  Hulle het nie tevereefs gearbei nie.

 In die begin van Maart 1943 het die Algemene Sendingkommissie twee van sy lede, Di. A.F. Louw en J.J. Olivier gestuur om die Rynse gemeente oor te neem.  Onmiddelik daarna is die eerste beroep uitgebring.  Die keuse het geval op Eerw. W.R.J. Burger, destyds werksaam te Knysna.  Hy het die beroep aangeneem en is op 15 Mei 1943 hier bevestig.

 Die oorname van die stasie het vir die plaaslike sendinggemeente ‘n nuwe tydperk ingelui.  Meer geldelike steun kon van nou af van, en deur die moederkerk verkry word.  Met die oog op die eerste Eeufeesviering in 1947, het Eerw. Burger in die jaar ‘n spesiale poging aangewend om die fondse van die sendingkerk te styf.  Die volgende bydrae is ingesamel:-

 (i)  Van die Blankes van die N.G. Kerk  512.      3.      0.

(ii)  Van die Blankes van die Eng. Kerk 56.        7.      0.

(iii) Van die Sendinggemeente ………. 434.     10.      0.

   ‘n Totaal dus van 1,003.

 Ook wat die sendingskool betref, was die oorname ‘n seën.  In 1943 was daar iets meer as 360 leerlinge op rol, met 10 onderwysers(esse).  In die eerste helfte van 1947 het die getalle reeds gestyg tot 500 met 13 onderwysers(esse).  In 1948 is ‘n nuwe sendingskool teen ‘n koste van nagenoeg 11,000 gebou.  ‘n Lening van  6,000 kon by die Kerkkantoor van die N.G. Sinode aangegaan word.  Die gebou staan op 51/2 Morge grond wat  deur die plaaslike stadsraad geskenk is.

1952

Die sieletal van die plaaslike sendinggemeente is iets meer as 3,500 en die ledetal 1,100.  Die nie-blanke bevolking in die Carnarvonse Magistraatsafdeling tel tans byna 7,000.

Back to Top